Banner

Login

Banner
Die Pyn en Plesier van Ringsessies: Botaniese Tuine en Southdowns PDF Print E-mail
Written by Ralda Heyns   
Monday, 21 November 2011 10:43
Die ringsessie op Saterdag 26 Maart by die Botaniese Tuine was ‘n absoluut  wonderlike, maar effens pynlike belewenis! ‘n Hele klomp nuwe belangstellendes het die ringsessie bygewoon. Ons het baie interessante voëls gering, o.a. ‘n Afrikaanse Naguil (Fierynecked Nightjar) en ‘n Oranjeborsboslaksman (Orange-breasted Bush-Shrike).

Rihann Geyser het later die oggend opgedaag met lede van die Lion-groep vir Blindes. Ai, ek sê vir jou, dis darem ‘n plesier om te kan sien, al raak ons ouer en het ons brilletjies en pilletjies nodig! Rihann het ons blinde gaste laat vat aan die voëls en verduidelik hoe hulle lyk, sodat elkeen die wondere van die natuur kon ervaar. Ek het die dag as groentjie saam met Johan Snyman gering en die ondervinding baie geniet. Maar net toe ons die laaste voëltjie vir die dag wil ring, het dié Fiskaallaksman (Common Fiscal) die ROOK uit my gebyt. Rihann het tot hulp gesnel en die ou van my vinger afgekry – dankie tog!

Ek het sommer daar en dan besluit om op te hou met die ringery, maar Louis, my dierbare man, het getroos en aangespoor. Dit bring ons toe by Sondagoggend 3 April se ringsessie by Southdowns. Hierdie was net so ‘n spesiale dag. Ons het ‘n Europese Byvreter gevang en dis ongelooflik hoe die kleure inmekaar vloei om hierdie pragtige besoeker aan ons land te vervolmaak. Gerrie het die uitstappie gelei en die voëlkykers gebring om te kyk na die pragvoëltjies wat ons gevang en gering het. Toe het Jason vir my ‘n Diederikkie gegee om te ring. Hoe het hy geweet dat ek so ‘n belewenis nodig gehad het om my moed as ringer te herstel? Ten spyte van daardie geniepsige laksman kan ek nou met trots erken dat ek as leerlingringer alreeds ‘n totaal van 50 spesies en 200 geringde voëls, bereik het. Jason, jy is sommer ‘n wonderlike aanwins vir ons klub en ons gaan nog baie put uit jou inspirasie en idees. Ringsessies kan dus soms effe verrassend wees, maar die plesier daarvan maak op vir al die pyn.